Vingerverf is ‘n morsige, prettige aktiwiteit vir peuters, kleuters en kinders! KiddieKuns-VingerVerfCoverVingerverf bied kiddies die geleentheid om direk met die verf in kontak te kom en bied ‘n sensoriese ondervinding omdat kinders die tekstuur, kleur en geur van die verf kan waarneem en beskryf.
Gereelde vingerverf aktiwiteite dra by tot fynmotoriese ontwikkeling en oefen die vingerspiertjies wat later belangrik is vir teken en skryf.

Vingerverf het ‘n jellierige tekstuur wat gemaklik oor die papier gly as kinders daarmee verf.
Daar is verskeie soorte vingerverf op die mark, maar vir die peuters en kleuters wat nog daarvan hou om eers te proe en dan te verf kan mens altyd ‘n tuisgemaakte vingerverf meng.

Terwyl sommige kinders nie kan wag om die verf tot reg onder hulle elmboë te smeer nie, sal ander weer huiwerig wees om hulle hande vuil te maak. Sulke kinders se nuuskierigheid kan geprikkel word deur geleidelik deel te neem aan vingerverf-aktiwiteite of selfs deur hul maatjies of mamma dop te hou terwyl hulle verf.

Vir optimale ontwikkeling, gebruik ‘n groot vel papier sodat kinders groot armbewegings kan maak en verskillende dele van hulle hande kan gebruik om die verf te smeer soos bv. hul kneukels of handpalms.

Vingerverf is ook ‘n goeie aktiwiteit om kleur en kleurvermenging op ‘n spontane manier te ontdek deur self te eksperimenteer en te sien wat gebeur as hulle verskeie kleure saam meng.

Onthou wel om ‘n voorskoot vir die kiddies aan te trek want die verf bly nie noodwendig altyd net op die papier nie.

KiddieKuns-VingerVerf